Ons land Suid-Afrika
Maats, kom ons begin weer vandag deur die syferkaarte van 1-10 te flits.
Vra vir mamma om dit vir jou te flits en benoem dan die syfers.
Jy vorder al mooi!
Laat mamma nou die getalname van een tot vyf weer vir jou flits en benoem dit. Kyk mooi en dink aan die syfertjie wat daarby pas.
Vandag gaan mamma vir jou ‘n paar oulike aftrek-sommetjies vra. Aftrek beteken ons “neem weg”. Dink mooi en gee dan vir haar die antwoord.
– Mamma pak vir jou vyf koekies in skool toe. Jy eet drie van
die koekies by die skool op. Hoeveel koekies bly oor?
– Juffrou het vier sterretjies om weg te gee. Sy gee vir een
maatjie ‘n sterretjie omdat hy mooi gewerk het. Hoeveel
sterretjies het juffrou nou oor?
Mamma kan nou aan nog so paar sulke voorbeelde dink en vir jou vra. Mamma, onthou om nie hoër as vyf te begin nie.
AKTIWITEITE
Maats, ons gaan nou weer lekker saam tel. Vra vir mamma of jy weer 20 van haar wasgoedpennetjies en ‘n papierbord kan leen.
Knyp nou al 20 van die pennetjies rondom die bord vas en tel elke keer wanneer jy een vasknyp. Doen dit totdat daar 20 pennetjies rondom die bord vasgeknyp is. Tel dit dan sommer weer. Dit oefen sommer jou vingertjies se klein spiertjies ook.