Ons land Suid-Afrika
Bybelstorie:
Goeiemôre maats. Ons gaan vanoggend weer ‘n stukkie uit die bybel lees. Laat mamma vir jou lees uit Numeri 13-14. Dit handel oor Joshua en Kaleb. As jy ‘n kinderbybel het, kan mamma of pappa vir jou die storie daaruit lees. Hier is ‘n prentje van die storie:
Temabespreking:
Ons gesels vandag oor ons president, Mnr. Cyril Ramaphosa.
– Die meeste lande het ‘n president.
– ‘n President is die leier van ‘n land.
– Hy moet baie belangrike besluite neem om altyd mooi te kyk
na die mense van sy land en te sorg dat hulle veilig is.
– Ons land se president se naam is Mnr. Cyril Ramaphosa.
– Hy is op 15 Februaie 2018 aangestel as ons land se president.
– Hier is ‘n foto van Mnr. Cyril Ramaphosa:
Gediggie:
Ons gaan vandag die laaste keer ons gediggie oefen, want juffrou is seker jy ken dit nou heeltemal.
Ons land het baie mense
wat hard werk elke dag.
Ons land is mooi en kleurvol
en pryk met blommeprag.
Klanke:
Laat mamma die volgende klankies se flitskaarte vandag weer vir jou flits en benoem dan die klankies:
a, d, g, o, e, s, i, u, f, j, k, l en m.
Eindklanke:
Vandag gaan ons weer die eindklank-speletjie speel. Kom ons luister weer na die laaste klankie van die woord, die klankie waarmee die woord eindig.
Mamma kan nou weer vragies vra soos:
Met watter klankie eindig die woord “tas”? (Wat hoor jy laaste as ek sê “tas”?)
Mamma, gebruik nou verskillende 3-letter woordjies om hierdie speletjie te speel.
Bv. nat, vis, kar, mol, gom, ens. Onthou: lê klem op die laaste klankie van die woord deur dit effens harder te sê indien hy/sy nie die klankie duidelik hoor nie.
AKTIWITEITE
Maats, vandag gaan jy ‘n Protea maak, ons land se nasionale blom.
Jy het die volgende nodig:
- Kolwyntjie-papiertjie – wit.
- Verf – pienk, bruin en groen.
- Pienk/wit A4-papier.
- Kwaste
- Gom
Dis wat jy moet doen:
- Verf die steeltjie met bruin verf en verf dan die blare van die protea groen. Die blaartjies moet raak aan die steeltjie.
- Plak nou die kolwyntjie-papiertjie aan die bokant van die steeltjie vas.
- Verf die kolwyntjie-papier met pienk verf. Wees versigtig om nie oor die kante
van die papiertjie te verf nie.
- As jy wil, kan jy sommer twee of drie sulke proteas verf. Dit gaan spoggerig lyk!
Hier is ‘n prentjie van hoe dit moet lyk: