Graad 7 LO: Mishandeling maak seer

(Lesson Scheduled For: Tuesday, 28 April 2020)

Wat is mishandeling en hoe om dit te rapporteer.

28 April – 1 Mei 2020

Mishandeling maak seer ( p. 50 – 58 )

Les 2

Hantering van mishandeling in verskillende kontekste        

     Mishandeling is die verbale, fisieke, seksuele of emosionele misbruik van iemand anders.

  • Om iemand te verwaarloos, is ook ‘n vorm van mishandeling.

Sleutelwoorde

 

Depressie:        ‘n Toestand van ongelukkigheid en hopeloosheid.

Selfmoord:        Die daad om jouself doelbewus dood te maak.

Rolmodel :        ‘n Persoon wie se gedrag, voorbeeld of sukses deur ander   nagestreef  kan word, veral deur jonger mense.

Proaktief:          Om aktief dinge vir jouself te doen.

Manipulerend:   Gebruik slinkse, oneerlike of skelm maniere om iemand te beheer of    te oorreed om die verkeerde besluit te neem.

Instellings:        Groot, invloedryke organisasies in die gemeenskap, bv. ‘n kollege, hospitaal, bank of plek van veiligheid.

Misbruik:           Gedrag wat wreedaardig of onsimpatiek teenoor mense en diere is, veral deur hulle welsyn te verwaarloos.

Aggressief:        Om die neiging te hê om iemand aan te val of skade aan te doen.

Kuber:              Hou verband met rekenaars en die internet.

Mishandeling tussen volwassenes en kinders

 

  • Kinders moet nooit op enige manier doelbewus skade aangedoen word nie, veral nie deur ‘n volwassene nie.
  • Fisieke mishandeling. Opvallendste vorm van mishandeling omdat dit fisieke beserings soos merke en kneusings veroorsaak.
  • Seksuele mishandeling.
  • Enige vorm van onvanpaste fisieke kontak tussen ‘n volwassene en ‘n kind jonger as 18 jaar.
  • Emosionele mishandeling. Wanneer ‘n skreëry en woede te ver gaan of wanneer ouers voortdurend hulle kinders kritiseer of verneder. Dit is baie skadelik vir ‘n kind se gevoel van eiewaarde.
  • Wanneer ‘n ouer kies om ‘n kind se basiese behoeftes soos kos, behuising, klere, mediese sorg of emosionele ondersteuning te verwaarloos.
  • Gesinsgeweld kom in enige soort gesin voor. Party ouers mishandel hulle kinders deur fisieke of verbale wreedheid as ‘n vorm van dissipline te gebruik.
  • Soms is die mishandelaar ‘n familielid of net ‘n familievriend.
  • Mishandeling moet nooit verdra word nie en onmiddelik aangemeld word.

Mishandeling in portuurgroep

  • Afknouery is ‘n vorm van mishandeling.
  • Om iemand af te knou deur intimidasie, dreigemente of spottery is net so verkeerd as om iemand te slaan.
  • Afknouery is aggressiewe gedrag en word gewoonlik met verloop van tyd herhaal. Dit sluit in slaan, die noem van name, nare gebare of sosiale uitsluiting.
  • In onlangse jare het die tegnologie kinders nuwe maniere gegee om ander kinders af te knou. ‘n Kuberboelie kan groot ontsteltenis veroorsaak.
  • Wanneer kinders herhaaldelik en opsetlik gemeen met mekaar is deur gebruik van selfone of die internet, noem ons dit kuberafknouery.
  • Mense wat ander afknou, is dalk self mishandel, maar dit gee hulle nie die reg om iemand anders opsetlik skade aan te doen nie.
  • Kuberboelie kan insluit: Gemene, vulgêre of dreigende foto’s of boodskappe te stuur. Teksboodskappe met sensitiewe of private inligting oor iemand te stuur of dit op ‘n webwerf te plaas.
  • Om voor te gee om iemand anders te wees ten einde emosionele skade
  • aan te rig terwyl jy jou eie identiteit geheim hou.

Identifiseer gevaarlike en bedreigende situasies

  • Om mishandeling te herken, kan moeilik wees vir iemand wat vir baie jare daarmee saamleef. Iemand kan dink dat die mishandeling normale gedrag is en verkeerdelik dink dat dit sy of haar fout is omdat hulle reëls verbreek, nie aan mense se verwagtinge voldoen nie of nie na sy of haar ouers luister nie.
  • ‘n Kind wat in ‘n gesin grootword waar daar geweld of mishandeling is, kan dink dat dit die regte manier is om iemand te behandel.
  • ‘n Geslaan, gestamp, geskree of om iemand te beledig is nie ‘n gesonde manier om mense te behandel nie.
  • Daar is geen enkele rede waarom mense ander mishandel nie.
  • Die faktore hieronder kan redes wees waarom iemand beheer kan verlooren iemand anders seer maak.
  • Om groot te word in ‘n gesin waar mishandeling plaasvind, kan tot ‘n siklus van mishandeling lei waar daardie gesinslede dink dit is aanvaarbaar om ander te mishandel.
  • Mense wat nie hulle woede kan beheer of spanningsvolle situasies kan hanteer nie, kan ander mense mishandel.
  • Die drink van te veel alkohol of gebruik van dwelms kan dit vir party mense moeilik maak om hulle optrede te beheer. Sekere soorte persoonlikheidsversteurings of geestesiektes kan inmeng met iemand se vermoë om op ‘n gesonde manier met ander om te gaan.
  • Gelukkig kan mense wat ander mishandel, hulp kry en leer om verantwoordelikheid vir hulle optrede te aanvaar.
  • Hulle kan ook maniere leer om hulle gedrag te verander.

Siklus van mishandeling

  • As jy afgeknou word of van iemand weet wat afgeknou word, meld dit onmiddelik aan by iemand wat jy vertrou.
  • Mense wat mishandel word, voel dikwels bang, afgestomp en alleen.
  • Om hulp te kry is ‘n belangrike eerste stap om beter te voel.
  • Dit is elkeen se reg om nie afgeknou te word nie.
  • Dit is elkeen se verantwoordelikheid om ander regverdig te behandel.
  • Wees kuberwys – stop voor jy foto’s en video’s op die internet oplaai en dink: sal dit iemand ontstel of seermaak? 

Invloed van mishandeling op persoonlike en sosiale gesondheid en

verhoudings

  • Mense van alle ouderdomme, ras of geslag kan mishandel word.
  • Wanneer mense mishandel word, kan dit elke aspek van hulle persoonlike lewe raak, veral hulle gevoel van eiewaarde.
  • Om mishandel te word, kan baie verwarring veroorsaak, veral as die mishandelaar ‘n vriend of ‘n familielid is, en dus iemand is wat vertrou moet kan word.
  • Kinders wat mishandel word, sukkel om te slaap, te eet of te konsentreer.
  • Hulle skoolwerk kan daaronder ly en hulle verloor dikwels belangstelling in die aktiwiteite waaraan hulle deelneem.
  • Gevoelens van woede teenoor hulself en die mishandelaar is oorweldigend en hulle kan skuldig of skaam voel en hulself blameer.
  • Mishandelde kinders wantrou ander en vind dit moeilik om vriende te maak.
  • Dit is belangrik om te onthou dat mishandeling nooit die slagoffer (person wat mishandel word) se fout is nie, maak nie saak hoeveel die mishandelaar ander probeer blameer nie.
  • Mishandeling is ‘n belangrike oorsaak van depressie by jongmense en kan daartoe lei dat hulle hulself skade aandoen. Bv. deur dwelm- en alkoholmisbruik, en in party gevalle selfs selfmoord.
  • Mense wat mishandel word, kan dit moeilik vind om hulp te kry omdat dit beteken dat hulle iemand moet verkla vir wie hulle lief is.
  • Tieners wat van ‘n jong ouderdom af mishandel is, weet nie hoe dit is om normaal behandel te word nie.
  • Meld kindermishandeling aan. Vertel ‘n volwasse wat jy vertrou; moenie in stilte ly nie!

Belang van kommunikasie om gesonde en geweldlose verhoudings te

bevorder

  • Gesinslede wat doeltreffend kommunikeer, ontwikkel hegte, gesonde en liefdevolle verhoudings met mekaar.
  • Kommunikasie behels nie net om te praat nie, maar ook luister na mekaar.
  • Om aktief (werklik) te luister, moet jy met jou ore, oë en hart luister; fokus op die spreker se liggaamstaal en stemtoon.
  • Daar sal tye wees wat jy nie met ‘n lid van die gesin saamstem nie, dit is normaal en hoef nie tot aggressie of woedeuitbarstings te lei nie.
  • Om op mekaar te skree, beteken dat nie een van julle hoor wat gesê word nie, julle moet ophou praat en luister.
  • So kan ‘n kompromis gewoonlik uitgewerk word, gedurige geskree lei tot spanningsvolle situasies en verhoudings.
  • Desmond Tutu het goeie raad vir mense wat meningsverskille het: “Moenie jou stem verhef nie, verbeter jou argument.”
  • Om oop en eerlik te wees, is belangrik in alle verhoudings.
  • Mense moet hulle emosies, positief of negatief, kan uitdruk sonder om bang of bedreig te voel.
  • Kinders kan die verkeerde soort mens in hulle vertroue neem as hulle voel hulle ouers luister nie na hulle nie.
  • Vertrou altyd die stem van jou gewete, as jy ongemaklik voel, het j waarskynlik rede om so te voel.
  • As jy ongemaklik met of bedreig voel deur iemand, of jouself in ‘n gevaarlike situasie bevind, praat met iemand, daar is baie volwassenes (ouers, onderwysers, religieleiers) om kinders te help.
  • Die Handves van Regte sê “Elke kind het die reg om teen mishandeling, verwaarlosing, misbruik of vernedering beskerm te word”, jy het die reg om nee te sê.

Rolmodelle

  • ‘n Persoon wie se gedrag, voorbeeld of sukses deur ander nagestreef kan word, veral deur jonger mense.
  • Rolmodelle help ons om uit ander mense se gedrag te leer.
  • Sommige mense word in huise groot waar ‘n gesin nie goed saam funksioneer nie en hul gedrag baie afbrekend is.
  • Hulle kommunikeer nie goed nie en daar vind dikwels mishandeling plaas.
  • Dit is moeilik om weg te breek van sulke gedrag, wanneer dit as “normaal” gesien word.
  • Ons moet goeie, positiewe rolmodelle kies.
  • Dit moet mense wees wat hulself goed gedra.
  • Mense wat eerlik en goedhartig is.
  • Hulle moet positief wees.
  • Hulle moet vir hulself doelwitte stel en dit nastreef.

Hoe om jouself teen bedreigende en gevaarlike situasies te beskerm

  • Moet jouself nooit in ‘n gevaarlike situasie begewe nie.
  • Luister na ouer mense, hul raad is dikwels uiters waardevol.
  • Sê altyd vir jou ouers of toesighouers waarheen jy gaan en wanneer jy by die huis sal wees.
  • Laat ‘n kontaknommer sodat mense jou in die hande kan kry.
  • Moet nooit iewers gaan saam met ‘n vreemdeling nie.
  • Wees versigtig om persoonlike besonderhede oor die internet aan iemand te gee, moenie reël om iemand te ontmoet wat jy op die internet leer ken het sonder ‘n volwassene saam met jou nie.
  • Jy het die reg om beskerm te word, die verantwoordelikheid om nie jouself in gevaar te stel nie.
  • Groepsdruk speel dikwels ‘n rol wanneer mense swak besluite neem.
  • Jy moet die moed hê om jouself te wees en moet nooit te skaam wees om nee te sê vir jou maats nie.
  • Soms is dit belangriker om die regte ding te doen as om deel van die groep te wees, kies jou maats versigtig en bestee tyd met mense wat jou aanvaar.
  • Tyd saam roekelose, onverantwoordelike mense kan jou in bedreigende en gevaarlike situasies laat beland.
  • Ongelukkig sal jy soms in gevaarlike situasie wees waaroor jy nie beheer het nie, slegte dinge gebeur met goeie mense (dit is nie altyd hulle skuld nie).
  • Kinders wat mishandel word, moet hulp kry – om die mishandeling geheim te hou, beskerm niemand daarteen nie en dit sal waarskynlik aangaan.
  • Mishandelaars is dikwels baie manipulerend en sê dinge soos: “As jy vir iemand sê, sal ek jou gesin seermaak” of “Niemand sal jou glo nie en hulle sal dink jy jok.”
  • Dit is hoe die mishandelaar keer dat die mishandeling aangemeld word.

Plekke van beskerming en veiligheid vir slagoffers van mishandeling

  • Baie onskuldige kinders word daagliks mishandel, die enigste manier om dit te stop is om dit aan te meld.
  • Daar is 345 geregistreerde kinderhuise in Suid-Afrika wat na 21 000 kinders omsien.
  • As ‘n geval aangemeld word, tree sosiale strukture op en red die kinders.
  • Gesinsgeweld-/ Kinderbeskermings- en Seksuele oortredingseenheid (GKS).
  • Die kinders word uit hulle afbrekende omstandighede verwyder en in ‘n plek van veiligheid geplaas.
  • Hul help kinders wat verwaarloos of mishandel is en help om slagoffers van mishandeling te beskerm.
  • Hierdie instellings word deur die regering befonds of privaat bestuur.
  • Kinders word in plekke van veiligheid geplaas terwyl die jeughof besluit wat die beste vir die kinders sal wees.
  • Plekke van veiligheid voorsien nie net in die kind se basiese behoeftes nie, maar probeer ‘n liefdevolle omgewing skep waar kinders emosioneel gehelp kan word en die helingsproses kan begin.
  • Proffesionele mense wat by plekke van veiligheid werk, kan maatskaplike werkers, beraders, sielkundiges, verpleegkundiges en onderwysers wees.
  • Hulle doel is om kinders emosioneel te help en om vir hulle die vaardighede te gee wat hulle nodig het om meer selfversekerde, gelukkige mense te word, wat gelukkige en vervulde lewens kan hê.
  • Hierdie proses neem dikwels maande, indien nie jare nie.
  • Dit is baie belangrik dat daar strukture is wat hierdie kinders voortdurend kan ondersteun.

Waar om hulp te kry

  • Wanneer jy hulp nodig het, om watter rede ook al, gaan na ‘n volwassene wat jy kan vertrou.
  • Een van jou ouers, onderwyser, religeuse leier of enige ander volwassene wat deur ander in jou gemeenskap vertrou word.
  • As jy te skaam is om oor jou probleem te praat, skryf ‘n brief waarin jy verduidelik wat gebeur het en hoe dit jou laat voel.
  • Kinderlyn is ‘n tolvrye lyn wat 24 uur per dag vir kinders beskikbaar is.
  • Die opgeleide beraders ontvang sowat 50 000 oproepe per maand van kinders wat hulp nodig het.
  • Berading word in al 11 amptelike tale gegee.
  • Ander organisasies wat mishandelde kinders help:
  • Proactive Education Group.
  • Die Suid-Afrikaanse polisie het spesialis-eenhede om fisieke en seksuele mishandeling te hanteer en is verantwoordelik om die kind teen verdere mishandeling te beskerm.
  • Die GKS is ‘n gespesialiseerde eenheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat op die been gebring is met die uitsluitlike doel om na kinders om te sien wat mishandel of verwaarloos is.
  • Professionele mense wat spesiaal opgelei is om kinders te help, vorm deel van hierdie eenheid.
  • Hierdie mense is altyd beskikbaar om berading en advies te gee.
  • As jy, of iemand wat jy ken ‘n slagoffer van mishandeling is, moet jy dit onmiddelik aanmeld.

Belangrike telefoon nommers

  • Suid-Afrikaanse Polisie Stop Misdaad 10111
  • Kinderlyn 08000 55 555
  • Proactive Education Group 031 572 6690
  • Kinderwelsyn 0861 424 453
  • Teddiebeerkliniek 011 484 4554
Jy is GOD se skepping en niemand het die reg om jou op enige manier seer te maak nie!

 Jy is uiters spesiaal!


AKTIWITEITE

Geen aktiwiteit nie.


DRUKBARE DOKUMENTE

Smiley faceles 2 LOT Mishandeling.pdf

TOETS JOU KENNIS