My land Suid-Afrika
Bybelstorie:
Goeiemôre maats. Ons gaan vanoggend ‘n stukkie uit die bybel lees. Laat mamma vir jou lees uit Eksodus 20. Dit handel oor God se Tien gebooie. As jy ‘n kinderbybel het, kan mamma of pappa vir jou die storie van die tien gebooie lees. Hieronder is ‘n prentjie van Moses met die kliptablette waarop God die tien gebooie geskryf het:
Temabespreking:
Kom ons gesels nou oor ons tema, My land Suid-Afrika.
- Ons land se naam is Suid-Afrika.
- Ons land bestaan uit nege provinsies en die provinsie waarin ons woon is die Wes-Kaap. Jy sal dit sien op kaart hieronder:
Ons woon in Mosselbaai. Mosselbaai is dus in die Wes-Kaap geleë.
Gediggie:
Kom ons leer nou ‘n oulike gediggie oor ons land. Oefen dit oor en oor saam met mamma:
Ons land het baie mense
wat hard werk elke dag.
Ons land is mooi en kleurvol
en pryk met blommeprag.
Klanke:
Laat mamma die volgende klankies se flitskaarte vir jou flits en benoem dan die klankies:
a, d, g, o, e, s, i, u, f, j, k, l en m.
Ons gaan dit elke dag oefen.
Beginklanke:
Kom ons gesels nou bietjie oor klankies waarmee sekere woordjies begin.
Luister mooi as mamma vir jou die woordjie sê en luister met watter klankie die woordjie begin, bv. as ek die woordjie “mat” sê, moet jy kan hoor dat die eerste klankie van die woord ‘n “m”-klankie is.
Kan jy dit hoor?
Hier is nog ‘n paar woordjies wat mamma vir jou kan vra: sit, vat, rak, tas, ses, mes, dak, lig, bal.
Mooi so! Nou het jy sommer baie geleer!
AKTIWITEITE
Maats, ons land het ‘n baie mooi vlag. Hier is ‘n prentjie van die vlag:
Ons sal môre meer daaroor leer, maar vandag gaan ons solank ‘n oulike prentjie van die vlag maak.
Dit is wat jy nodig het om die prentjie te maak:
- Verf – blou, geel, groen, rooi, swart.
- Swart kryt. (Vetkryt of uitdraaikryt)
- Groot wit papier.
Luister nou mooi wat om te doen:
- Vra vir mamma of pappa om jou te help om die vlag baie groot op die wit papier te teken met die swart kryt.
- Verf nou jou een handjie aan die binnekant swart en druk dit op die gedeelte van die vlag wat moet swart wees. As die verf droog word op jou handjie, verf dit weer en druk weer op die vlag. Gaan was nou jou handjie en herhaal die proses met die geel verf, dan met die rooi, groen en blou verf. Hier is ‘n voorbeeld van hoe jou prentjie moet lyk:
Ek is seker jou prentjie gaan net so mooi lyk.
Lekker verf!