Ons land Suid-Afrika
Bybelstorie:
Goeiemôre maats. Ons gaan vanoggend ‘n stukkie uit die bybel lees. Laat mamma vir jou lees uit Joshua 6. Dit handel oor die stad Jerigo wat ingeneem word. As jy ‘n kinderbybel het, kan mamma of pappa vir jou die storie daaruit lees.
Hier is ‘n prentjie van die storie:
Temabespreking:
Ons land het ’n baie mooi, kleurvolle vlag. Hy lyk so:
Die kleure van die vlag het ‘n simboliese betekenis.
Rooi simboliseer die swaarkry in die stryd vir gelykheid.
Groen simboliseer ons vrugbare land.
Blou simboliseer ons mooi blou lug.
Wit en swart simboliseer die verskillende rasse in ons land.
Geel (goud) simboliseer ons minerale rykdom.
Gediggie:
Kom ons oefen weer vandag ons nuwe gediggie wat ons gister geleer het.
Ons land het baie mense
wat hard werk elke dag.
Ons land is mooi en kleurvol
en pryk met blommeprag.
Klanke:
Laat mamma die volgende klankies se flitskaarte vandag weer vir jou flits en benoem dan die klankies:
a, d, g, o, e, s, i, u, f, j, k, l en m.
Eindklanke:
Vandag begin ons met ‘n nuwe klank-speletjie. Onthou jy dat mamma al ‘n paar keer vir jou gevra het met watter klankie begin ‘n sekere woordjie? Vandag gaan ons bietjie luister na die laaste klankie van die woord. Die klankie waarmee die woord eindig.
Mamma kan nou vragies vra soos: Met watter klankie eindig die woord “tas”? (Wat hoor jy laaste as ek sê “tas”?)
Mamma, gebruik nou verskillende 3-letter woordjies om hierdie speletjie te speel. Bv. bal, sak, nes, mot, sin, ens. Lê klem op die laaste klankie van die woord deur dit effens harder te sê indien hy/sy nie die klankie duidelik hoor nie.
Mooi luister, maats!
AKTIWITEITE
Maats, jy gaan nou jou eie landsvlag maak.
Jy het die volgende daarvoor nodig:
- Rooi, geel, swart, blou en groen papier. (Dit kan servette, “tissue-papier”, afval-papier of gewone gekleurde papier wees.)
- Een wit A4 papier.
- ‘n Swart koki.
- Gom.
- Skêr.
Dit is wat jy gaan doen:
- Vra weer vir pappa of mamma om jou te help om ‘n groot Suid-Afrikaanse vlag op die wit papier te teken met die swart koki.
- Knip nou dun repies van al die gekleurde papier. So twee of drie repies van elke kleur.
- Smeer nou gom op die gedeelte van die vlag wat swart moet wees.
- Skeur nou klein blokkies papier uit die repies en plak dit op die regte plekkie. Plak daardie hele gedeelte toe met die swart papier.
- Herhaal dit nou met al die ander kleure, behalwe die wit. Moenie oor die lyntjies plak nie.
Dis fyn werkies, so oefen jou vingertjies voor die tyd, hoor! Hier is ‘n voorbeeld van hoe die prentjie moet lyk: