Graad R Huistaal, Wiskunde en Lewensvaardigheid – Dinsdag 12 Mei 2020

(Lesson Scheduled For: Tuesday, 12 May 2020)

Padveiligheid en vervoer op land

Bybel:

Jy en mamma kan weer Galasiers 5:22-23 lees. Ons praat vandag oor vrede. Dis so belangrik dat ons elke dag in vrede met mekaar moet leef.  Ons moet leer om mekaar te verdra, geduldig te wees met mekaar en mooi te luister na mekaar. Ons moet probeer om nie met mekaar te baklei nie en eerder probeer om met mekaar te deel en beurte te neem, sodat ons almal in vrede met mekaar kan saamleef. ’n Wit duif is ‘n simbool van vrede.

  Temabespreking:

Ek ry op my fiets.

Ek moet altyd veilig wees wanneer ek op my fiets ry. 

  • Maak seker jou fiets is in ‘n goeie toestand en dat niks stukkend is nie.
  • Dra ‘n valhelm. Kopbeserings is ‘n groot oorsaak van baie fietsryers se dood en ‘n valhelm kan dit voorkom.
  • Dra fietsry-brille sodat vullis of klein goggatjies nie in jou oë beland nie.
  • Moenie deur waterpoele ry nie, want daar kan iets versteek wees.
  • Hou albei jou hande op die stuurstang.
  • Moenie heen en weer oor die pad ry nie. Ry aan die linkerkant van die pad.
  • Moenie langs mekaar ry nie – ry agter mekaar.
  • Gehoorsaam die padreëls te alle tye.

Gediggie:

Kom ons oefen weer vandag ons gediggie. Dis oulik, nê?

Ek ry in my rooi motorkar

en langs my sit my pop

en as ek by die rooi lig kom,

dan weet ek ek moet stop.

“Stop” sê die rooi lig.

“Ry” sê die groen lig.

“Oppas” sê die oranje lig, “oppas wat jy doen”!

Klanke:

Laat mamma die volgende klankies se flitskaarte vandag weer vir jou flits en benoem dan die klankies:

a, d, g, o, e, s, i, u, f, j, k, l, m en n.

Eindklanke:

Onthou jy dat mamma al ‘n paar keer vir jou gevra het met watter klankie ‘begin’ ‘n sekere woordjie? Vandag gaan ons weer bietjie luister na die laaste klankie van die woord. Die klankie wat laaste in die woordjie staan.

Mamma kan nou vragies vra soos: Watter klankie hoor jy laaste as ek sê: ”rok”?

Mamma, gebruik nou verskillende 3-letter woordjies om hierdie speletjie te speel. Bv. bal, sak, nes, mot, sin, ens.

Mamma, onthou, lê klem op die laaste klankie van die woord deur dit effens harder te sê indien hy /sy nie die klankie duidelik hoor nie. Mooi luister, maats!

Wiskunde:

Maats, kom ons begin vandag weer deur die syferkaarte van 1 – 10 te flits.

Vra vir mamma om dit vir jou te flits en benoem dan die syfers. Gebruik jou uitgedrukte flitskaarte hiervoor.

Jy herken dit al so mooi!

Laat mamma nou weer die getalname van een tot vyf vir jou flits en benoem dit. Kyk mooi en dink aan die syfertjie wat daarby pas.

Ons gaan vandag oefen om tot 10 te tel en dan weer om terug te tel van 10 af tot by 0.

Tel vir jou 10 klippies buite op. Pak hulle in ‘n rytjie totdat al 10 klippies in die ry is. Tel hulle weer.

Neem nou een klippie op ‘n slag weg en tel terug. Dit klink so: 10, 9, 8, 7, 6, 5, 4, 3, 2, 1, 0.

Jy kan die proses herhaal. Dis nou lekker, nê?


AKTIWITEITE

Lewensvaardigheid:

Maats, jy gaan vandag jou eie stopteken maak.

Jy het die volgende daarvoor nodig:

 

  • Een wit papier.
  • Een rooi A4-papier.
  • ‘n Swart koki.
  • Gom
  • Skêr.
  • Bruin plankie of stokkie.

 

Dit is wat jy gaan doen:

  • Vra vir mamma om jou te help om ‘n groot oktagoon (agthoek) op die rooi papier te teken en dan knip jy dit uit.
  • Vra nou vir mamma om jou te help om die woord STOP op die wit papier te skryf met die swart koki. Dit moet dik genoeg wees sodat jy dit kan uitknip.
  • Jy kan nou die letters uitknip.
  • Plak nou die wit letters in die regte volgorde op die rooi oktagoon.
  • Plak dan ‘n stokkie agter jou stopteken vas sodat jy hom kan vashou in jou handjie.
  • Hier is ‘n voorbeeld van hoe die stopteken moet lyk.

Wiskunde:

Jy het nodig:

  • 1 Wit papierbord.
  • Kolletjie-plakkers of gekleurde koki’s.
  • Tien wasgoedpennetjies – gemerk van 1 – 10.
  • Swart koki.

 

Maak nou so:

 

Vra vir mamma om die papierbord vir jou te verdeel in 10 ewe groot segmente. 

Teken nou in elke deel ‘n syfer se aantal kolletjies (1 – 10) of plak soveel kolletjie-plakkers, bv. een segment het een kolletjie, die ander segment het twee kolletjies, ens.

Neem die 10 wasgoedpennetjies en probeer nou om die regte pennetjie by die regte aantal kolletjies vas te knyp.

Jy is sommer baie slim!


DRUKBARE DOKUMENTE

Smiley faceDinsdag - 12 Mei 2020.pdf

TOETS JOU KENNIS