Graad R Huistaal, Wiskunde en Lewensvaardigheid – Donderdag 14 Mei 2020

(Lesson Scheduled For: Thursday, 14 May 2020)

Padveiligheid en vervoer op land

Bybel:

Goeiemôre maatjies. Ons lees vanoggend Galasiers 5:22-23 en gesels oor nederigheid. Jesus is die beste voorbeeld vir ons van iemand wat altyd nederig was hier op aarde. Hy het selfs ander mense se voete gewas. Ons moet nooit dink dat ons beter is as iemand anders nie. Jesus het ons almal ewe lief.

Temabespreking:

Kom ons gesels nou weer oor ons tema: Padveiligheid en vervoer op land.        

Vervoer op land sluit in:

  • Padvervoer.
  • Spoorvervoer.

Padvervoer sluit in:

  • Motors.
  • Busse.
  • Motorfietse.
  • Fietse.

Spoorvervoer sluit in:

  • Treine.

Gediggie:

Ons gaan vandag weer ons gediggie oefen. Ken jy dit al goed?

Ek ry in my rooi motorkar

en langs my sit my pop

en as ek by die rooi lig kom,

dan weet ek ek moet stop.

“Stop” sê die rooi lig.

“Ry” sê die groen lig.

“Oppas” sê die oranje lig, “oppas wat jy doen”!

Klanke:

Laat mamma die volgende klankies se flitskaarte vir jou flits en benoem dan die klankies:

a, d, g, o, e, s, i, u, f, j, k, l, m en n.

Juffrou het al genoem dat hoe meer ons oefen hoe makliker raak dit.

Eindklanke:

Vandag gaan ons weer die eindklank-speletjie speel. Kom ons luister weer na die laaste klankie van die woord, die klankie waarmee die woord eindig

Mamma kan nou weer vragies vra soos:

Met watter klankie eindig die woord “kas”? (Wat hoor jy laaste as ek sê “kas”?)

Mamma, gebruik nou verskillende 3-letter woordjies om hierdie speletjie te speel, bv. kat, vis, wen, bak, ens.

Wiskunde:

Maats, ons gaan vandag weer aandag gee aan ons syfertjies.

Vra vir mamma om die syferkaarte van 1 – 10 vir jou te flits en benoem dan die syfers.

Laat mamma nou die getalname van een tot vyf vir jou flits en benoem dit. Kyk mooi en dink aan die syfertjie wat daarby pas.

Vandag gaan mamma weer vir jou ‘n paar oulike aftrek-sommetjies vra. Dink mooi en gee dan vir haar die antwoord.

  • Die appelboom in ons tuin het 6 appeltjies aan. Ek pluk 3 appels af. Hoeveel appels bly oor?
  • Ons kat het 5 klein katjies gekry en ons gee 1 katjie as geskenk aan ‘n maatjie. Hoeveel katjies het ons oor?

Mamma kan nog sulke sommetjies vir jou vra.


AKTIWITEITE

Lewensvaardigheid:

Maatjies, ons gaan vandag ons eie paaie maak. Jy gaan dan jou motortjie van gister hierop plak.

Dit is wat jy nodig het:

  • ‘n Wit A4-papier.
  • Swart vetkryt.
  • Jou karretjie wat jy gister geteken en uitgeknip het.
  • Uitdraaikryte.

 

Maak nou so:

Teken groot stippellyne in die middel van die bladsy wat lyk soos die sperstrepe op die pad. Hou die stippellyne wit en kleur die res van jou pad lekker donker in met die swart kryt. Plak nou jou motortjie hierop. Teken nou  voetgangers, winkeltjies en ander motortjies ook by en kleur dit mooi in.

Ek weet jou prentjie gaan pragtig lyk! Ek kan nie wag om dit te sien nie.

 

Wiskunde:

Maats, vandag gaan ons lekker leer!  Vra vir mamma vir die volgende:

  • ‘n Tennisbal.
  • ‘n Sokkerbal of netbalbal.
  • ‘n Boks ontbytgraan.
  • ‘n “Tissueboks”.

 

Mamma, jy kan enige iets gebruik  wat kan rol of gly.

Kyk nou mooi na die balle. Wat gebeur met die sokkerbal as ek dit stoot? Ja, dit rol. Gebeur dieselfde met die tennisbal? Jy kan dit gerus met ander balle ook probeer. 

 

Kom ons probeer nou die ontbytgraan-boks. Wat gebeur as jy dit stoot? Rol dit ook? Nee, dit gly. Het jy dalk ‘n groter boks? Stoot hom en kyk of dit rol of gly.

Hierdie is pret! Jy kan dit met verskillende groottes probeer.

Ek hoop jy het hierdie speletjie baie geniet!


DRUKBARE DOKUMENTE

Smiley faceDonderdag - 14 Mei 2020.pdf

TOETS JOU KENNIS