Graad R Huistaal, Wiskunde en Lewensvaardigheid – Donderdag

(Lesson Scheduled For: Thursday, 07 May 2020)

Water

Bybelstorie:

Goeiemôre maats. Vanoggend se stukkie wat ons uit die Bybel gaan lees handel oor Dawid. Die spesifieke storie gaan oor God wat vir Dawid kies. Dit staan in die bybel in 1 Samuel 16. Mamma kan dit uit jou kinderbybel ook lees vir jou. Hier volg weer ‘n oulike prentjie van die storie:


Temabespreking:

Kom ons gesels nou oor ons tema, Water.

Ons gaan nou gesels oor die eienskappe van water:

  • Reukloos: Ons kan dit nie ruik nie.
  • Kleurloos: Water is deurskynend.
  • Smaakloos: Ons kan nie regtig water proe nie.

Gediggie:

Kom ons sê ons gediggie nog ‘n keer vandag. Ek dink jy ken dit nou al amper heeltemal. Kan jy dit al op jou eie opsê?

Rain on the grass

Rain on the grass,

rain on the tree,

rain on the roof top,

but not on me.

Klanke:

Laat mamma die volgende klankies se flitskaarte vir jou flits en benoem dan die klankies:

a, d, g, o, e, s, i, u, f, j, k, l, m en n.

Beginklanke:

Kom ons gesels nou weer bietjie oor klankies wat aan die begin van woordjies staan.

Luister mooi as mamma vir jou die woordjie sê en luister met watter klankie die woordjie begin, bv. as mamma die woordjie “bos” sê, moet jy kan hoor dat die klankie waarmee die woordjie begin ‘n “b”-klankie is.

Kan jy dit hoor?  Ons het dit mos al baie geoefen.

Hier is nog ‘n paar woordjies wat mamma vir jou kan vra: kar, met, vis, sop, bus ens.

Ek dink jy geniet hierdie!

Wiskunde:

Maats, kom ons begin vandag deur die syferkaarte van 1 – 10 te flits. Vra vir mamma om dit vir jou te flits en benoem dan die syfers. Gebruik  jou uitgedrukte flitskaarte hiervoor.

Kom, jy kan dit doen!

Laat mamma nou die getalname van een tot vyf vir jou flits en benoem dit. Kyk mooi en dink aan die syfertjie wat daarby pas.

Vandag gaan ons weer so bietjie meer en minder van getalle doen. Mamma gaan jou weer vragies vra en jy beantwoord dit. Kry solank  vir jou 10 tellertjies reg vir hierdie sommetjies. Jy kan doppies, proppies ens. gebruik. Hier is nog voorbeelde van hoe mamma dit vir jou kan vra:

  • Wat is een meer as 6?
  • Wat is een minder as 9?
  • Wat is twee meer as 2?
  • Wat is twee minder as 5?

Gebruik jou tellers om die sommetjies te doen. Jy kry dit al mooi reg, né?


AKTIWITEITE

Lewensvaardigheid:

Wat het jy nodig?

  • 2 Wit papiere
  • Blou kleursel
  • Swart koki
  • Gom
  • Een kwas
  • Skêr

 

Meng ‘n bietjie blou kleursel met water en verf die een wit bladsy toe met die kleursel. Laat dit eers bietjie droog word. Teken ‘n groot waterdruppel op die ander wit papier. Sodra die kleursel papier droog is, kan jy die hele bladsy in klein blokkies opknip. Jy kan nou die hele waterdruppel toeplak  met die blokkies blou papier. Probeer jou bes!

Wiskunde:

Maatjies vandag gaan ons tel, maar ons gaan dit weer so bietjie anders doen. Kyk of jy dalk 20 klein blaartjies buitekant kan optel. Jy kan ook ander voorwerpies gebruik, maar dit moet kan dryf. Vra vir mamma om jou te help om ‘n groot bak of skottel vol water te maak. Plaas die blaartjies of voorwerpies dan bo op die water.

Hierdie aktiwiteit gaan dalk ‘n uitdaging wees, maar jy moet die blaartjies tel terwyl dit op die water dryf. Jy moet nou probeer om die blaartjies van die een kant van die bak na die ander kant te skuif terwyl jy tel. Ek dink dit kan nogal lekker wees!


DRUKBARE DOKUMENTE

Smiley faceDonderdag.pdf

TOETS JOU KENNIS