Graad R Huistaal, Wiskunde en Lewensvaardigheid – Maandag 11 Mei 2020

(Lesson Scheduled For: Monday, 11 May 2020)

Padveiligheid en vervoer op land

Bybel:

Liewe maats ons gesels die week oor die vrug van die Gees. Vra vir mamma om vir jou die stukkie uit die Bybel te lees: Galasiers 5: 22-23. Ons gesels vandag oor die liefde. Die liefde bedek alles. Vir wie is jy almal lief? Hoekom is jy vir hulle lief? Liefde verskil. Mens het nie jou mamma en pappa dieselfde lief as jou hondjie of katjie nie. Liefde en omgee is amper dieselfde en wanneer mens liefhet gee jy om vir daardie mense.  Jy is lief vir hulle net soos wat hulle is. Jesus is die grootste voorbeeld van liefde, want Hy het Sy lewe aan die kruis vir ons gegee om ons te red van die dood.

Temabespreking:

Ons gesels die week oor die tema: Padveiligheid en vervoer op land.

Kom ons gesels nou oor hoe om ‘n verantwoordelike voetganger te wees.

  • Ons belangrikste padreël is: Kyk links, kyk regs, dan weer links en dan weer regs voor jy die pad oorsteek.
  • Ons moet altyd baie versigtig oor ‘n pad stap en nie hardloop nie, maar flink stap saam met mamma of pappa.
  • By ‘n verkeerslig mag ons slegs stap as die groen mannetjie-liggie verskyn en dan steeds flink stap en mooi kyk na die motors rondom ons.
  • Moenie aanneem dat ‘n motor vir jou gaan stop by ‘n sebrastreep nie, maak altyd eers seker!
  • As jy op die sypaadjie stap in die aand, dra helder klere sodat motoriste jou maklik kan raaksien.
  • Ons moet ons padreëls ken en gehoorsaam om veilig te wees langs die paaie.

  

Gediggie:

Kom ons leer nou ‘n oulike gediggie oor Padveiligheid. Oefen dit oor en oor saam met mamma: 

Ek ry in my rooi motorkar

en langs my sit my pop

en as ek by die rooi lig kom,

dan weet ek ek moet stop.

“Stop” sê die rooi lig.

“Ry” sê die groen lig.

“Oppas” sê die oranje lig, “oppas wat jy doen”!

Klanke:

Laat mamma die volgende klankies se flitskaarte vir jou flits en benoem dan die klankies:

a, d, g, o, e, s, i, u, f, j, k, l, m en n. Ons oefen dit elke dag.

Beginklanke:

Kom ons gesels nou bietjie oor klankies waarmee sekere woordjies begin.  

Luister mooi as mamma vir jou die woordjie sê en luister met watter klankie

die woordjie begin, bv. as ek die woordjie “bal” sê, moet jy kan hoor dat die

eerste klankie van die woord ‘n “b”-klankie is. Kan jy dit hoor?

Hier is nog ‘n paar woordjies wat mamma vir jou kan vra: rok, kat, bak, vas, res, bes, rak, wig, dal, ens.

Mooi so! Jy kry dit al mooi reg!

Wiskunde:

Maats, kom ons begin vandag deur die syferkaarte van 1 – 10 te flits.

Vra vir mamma om dit vir jou te flits en benoem dan die syfers. Gebruik jou uitgedrukte flitskaarte hiervoor.

Kom, jy kan dit doen!

Laat mamma nou die getalname van een tot vyf vir jou flits en benoem dit. Kyk mooi en dink aan die syfertjie wat daarby pas.

Jy kan nou ook die flitskaate neem en dit skommel. Pak dit dan in die regte volgorde van 1 – 10.

Mooi so. Jy is ‘n baie slim kind!


AKTIWITEITE

Lewensvaardigheid:

Maats, vandag gaan jy jou eie verkeerslig maak.

Dit is wat jy nodig het:

  • Rooi papier.
  • Oranje papier.
  • Groen papier.
  • ‘n A4-grootte wit papier met ‘n swart raampie. (Mamma kan help met die raampie).
  • Rooi, oranje en groen kryte.
  • Ronde plastiekbakkie om drie sirkels onder mekaar af te trek.

Dit is wat jy moet doen:

  • Gebruik die ronde plastiekbakkie en trek drie groot sirkels onder mekaar in die raampie af sodat al drie sirkels ewe groot is. Gebruik die rooi kryt vir die boonste sirkel, die oranje kryt vir die middelste sirkel en die groen kryt vir die onderste sirkel.
  • Skeur nou die rooi papier in klein stukkies en plak dit op die rooi lig. Herhaal die proses met die oranje en groen papier. Plak die sirkels mooi volledig toe totdat daar nie meer wit stukkies tussen-in uitsteek nie.

Ek is seker jou prentjie gaan net so mooi lyk.

Lekker skeur en plak!

 

Wiskunde:

Liewe Maats, vandag gaan ons ‘n heerlike aktiwiteit aanpak in Wiskunde!

Vra vir Mamma om vir jou 10 papierborde te gee. (Jy kan ook papier hiervoor gebruik.) 

Laat mamma vir jou ‘n strepie teken deur die middel. Vra nou vir mamma om vir jou aan die linkerkant die getalsimbool te skryf. Teken jy nou net soveel kolletjies aan die regterkant. Knip hulle nou in die helfte deur op die strepie wat mamma getrek het.

Nou moet jy hulle skommel en probeer om al die maats bymekaar te pas.  Ek weet jy kan dit doen! 

Lekker tel. Wiskunde is baie pret!


DRUKBARE DOKUMENTE

Smiley faceMaandag - 11 Mei 2020.pdf

TOETS JOU KENNIS