Graad R Huistaal, Wiskunde en Lewensvaardigheid – Maandag

(Lesson Scheduled For: Monday, 04 May 2020)

Water

Bybelstorie:

Goeiemôre maats

Ons gaan vanoggend ‘n stukkie uit die Bybel lees.

Mamma kan vir jou die storie van Naomi en Rut lees.

Dit staan in Rut 1 – 2 en 4: As jy ‘n kinderbybel het kan mamma daaruit lees.

Hier is ‘n prentjie van die storie:

Temabespreking:

Kom ons gesels nou oor ons tema, Water.

  • Water is lewe.
  • Wie het water nodig:
  • Mense

  • Diere

  • Plante

Gediggie:

Kom ons leer nou ‘n oulike gediggie oor water. Ons gaan hierdie week ‘n Engelse gediggie leer. Oefen dit oor en oor saam met mamma:

Rain on the grass

Rain on the grass,

rain on the tree,

rain on the roof top,

but not on me.

Klanke:

Laat mamma die volgende klankies se flitskaarte vir jou flits en benoem dan die klankies:

a, d, g, o, e, s, i, u, f, j, k, l, m en n.

Ons gaan dit elke dag oefen.

Aanleer van ‘n nuwe klankie:

Vandag gaan ons ‘n nuwe klankie aanleer. Mamma gaan ‘n paar woordjies sê en jy moet luister watter klankie hoor jy elke keer aan die begin: nes, nat, nul.

Met watter klankie begin al daardie woordjies? Ja, met die klankie “n”. Kan jy vir mamma nog woordjies gee wat met daardie klankie begin? Julle gaan ook nou oefen om dit sommer van die begin af op die korrekte skryfwyse te skryf. Mamma kan jou wys hoe om die “n” te skryf en dan kan jy so bietjie oefen. Jy kan ook prentjies teken van woordjies wat met ‘n “n” begin.

Wiskunde:

Maats, kom ons begin vandag deur die syferkaarte van  1 – 10 te flits.

Vra vir mamma om dit vir jou te flits en benoem dan die syfers. Gebruik jou uitgedrukte flitskaarte hiervoor.

Hoe meer jy oefen, hoe makliker raak dit!

Laat mamma nou die getalname van een tot vyf vir jou flits en benoem dit. Jy kan mos al mooi “lees”!

Ons gaan nou so paar voor-, na- en tussen-sommetjies doen, sodat ons kan verstaan waar pas elke syfer. Jy kan begin deur jou syferkaarte in volgorde te pak van 1 tot 10. Nou kan dit jou so bietjie help om die vragies te beantwoord. Mamma kan vir jou vragies vra en jy beantwoord dit:

  • Watter getal kom voor 5?
  • Watter getal kom na 2?
  • Watter getal kom tussen 7 en 9?

Mamma kan nou vir jou nog hiervan vra. Ons gaan eers net tot en met getal 10.


AKTIWITEITE

Lewensvaardigheid:

Maatjies, voor ons met ons aktiwiteit vir die dag begin, moet jy en mamma gou ietsie voorberei vir môre se aktiwiteit. Jy en mamma moet in ‘n ysbakkie verskillende kleure water ingooi. Jy kan die water kleur met verf of kleursel. Vries dan die gekleurde water. Jy kan roomysstokkies of selfs tandestokkies insit voor jy dit vries.

 

Nou is ons terug by vandag se aktiwiteit. Jy het die volgende nodig:

  • Wit papier
  • 1 Swart koki.
  • Gekleurde vetkryte.
  • Blou voedselkleursel.

Ons het vandag gesels oor hoe nodig ons water het. Diere en plante het ook water nodig om te lewe. Juffrou wil nou hê jy moet jouself met die swart koki teken waar jy met ‘n gietertjie plantjies water gee. Teken die hele wit bladsy vol. Gebruik dan die gekleurde vetkryte om die prentjie in te kleur. Onthou om mooi egalig in te kleur. Gooi dan ‘n klein bietjie blou kleursel by water. Verf met die kleursel bo-oor jou hele prentjie.

 

Wiskunde:

Ons het nog nie getel vandag nie. Kom ons maak dit so bietjie interessant. Vra vir mamma vir ‘n waterbak (dit kan sommer ‘n mengbak ook wees). Gooi water in en 20 doppies, proppies of dalk sommer wasgoedpenntjies daarin. Jy kan tel soos wat jy dit ingooi. Vra nou vir mamma vir ‘n knyptang en probeer dit een vir een uithaal met die knyptang en terwyl jy dit doen tel jy sommer nog ‘n keer. Dit is goeie oefening vir daardie fynspiertjies en terselfde tyd oefen ons ook om te tel. Welgedaan!


DRUKBARE DOKUMENTE

Smiley faceMaandag.pdf

TOETS JOU KENNIS