Graad R Huistaal, Wiskunde en Lewensvaardigheid – Vrydag 15 Mei 2020

(Lesson Scheduled For: Friday, 15 May 2020)

Padveiligheid en vervoer op land

Bybel:

Goeiemôre maats. Ons gaan vanoggend weer die stukkie van Galasiers 5:22-23 lees uit die Bybel. Ons leer vandag van selfbeheersing en dis soms nogal ‘n moeilike een om reg te kry. Ons moet probeer om nie lelike, verkeerde of ongesonde dinge te doen nie. Ons moet probeer om nie gou kwaad te word nie. Ons moet probeer om nie met mekaar lelik te wees nie. Ons moet kies om eerder gesonde kos te eet voordat ons iets ongesond eet, want dit is beter vir ons lyfies. Dit beteken eintlik dat ons onsself moet “keer” voordat ons iets doen wat verkeerd is of dat ons moet kies tussen reg en verkeerd. Hierdie is maar ‘n paar voorbeelde van selfbeheersing. Jy en mamma kan nou nog lekker daaroor gesels.

Temabespreking:

Vandag gaan ons praat oor spesiale vervoer op land:

        Vragmotors:

  • Vragmotors vervoer swaar vragte bv. ander motors, melk, graan, verskillende produkte, ens.
  • Die vragmotors het spesiale groot bande om baie swaar vragte te kan vervoer.
  • Vragmotors het meer bande as ‘n gewone voertuig. Gewone voertuie het vier bande en vragmotors het baie meer. Ambulanse:
  • Ambulanse vervoer siek mense na ‘n hospitaal.
  • Hulle moet soms vining ry om mense se lewens te red.
  • Ambulanse het ‘n sirene wat hulle aansit om ander voertuie en voetgangers te waarsku om spasie te maak sodat hulle kan verby kom, omdat hulle haastig oppad is na die hospitaal.                                                                                                Brandweerwaens:
  • Brandweerwaens word toegerus met spesiale toerusting om vure te blus.
  • Hulle moet ook soms vining ry om betyds by brande uit te kom voordat ‘n vuur baie skade aanrig en daarom skakel hulle ook ‘n sirene aan om ander voertuie en voetgangers te waarsku.

Gediggie:

Ons gaan vandag die laaste keer ons gediggie oefen, want juffrou is seker jy ken dit nou heeltemal.

Ek ry in my rooi motorkar

en langs my sit my pop

en as ek by die rooi lig kom,

dan weet ek ek moet stop.

“Stop” sê die rooi lig.

“Ry” sê die groen lig.

“Oppas” sê die oranje lig, “oppas wat jy doen”!

Klanke:

Laat mamma die volgende klankies se flitskaarte vir jou flits en benoem dan die klankies:

a, d, g, o, e, s, i, u, f, j, k, l, m en n.

Rymwoorde:

Vandag gaan ons die rymwoordjie-speletjie speel. Ons gaan luister na watter woorde dieselfde klink. Luister gou na die volgende woordjies: kat, mat, vat, gat. Luister mooi. Wat hoor jy by elke woordjie? Hulle klink almal dieselfde. Dit is net die beginklankie wat verander elke keer.

Mamma kan nou nog ‘n paar woordjies vra en jy kan dink watter ander woordjies rym met dit. Mamma sê die woordjie en jy kan dink aan nog woordjies wat klink soos die eerste een: kas (pas, mas, bas), bok (hok, rok, nok), mes (pes, ses, res),

sin (vin, in, min)

Mamma, jy kan nog ander voorbeelde ook gebruik. Lekker speel.

Wiskunde:

Maats, kom ons begin vandag deur die syferkaarte van 1 – 10 te flits.

Vra vir mamma om dit vir jou te flits en benoem dan die syfers. Gebruik jou uitgedrukte flitskaarte hiervoor.

Jy is seker al baie oulik hiermee!

Laat mamma nou die getalname van een tot vyf vir jou flits en benoem dit. Kyk mooi en dink aan die syfertjie wat daarby pas.

Vandag gaan ons weer so ‘n paar meer- en minder-sommetjies doen. Mamma gaan jou weer vragies vra en jy beantwoord dit. Jy kan weer tellers gebruik, maar as jy al gemaklik met hierdie sommetjies is, kan jy probeer om dit sonder tellers te beantwoord. Hier is ‘n paar voorbeelde van hoe mamma dit vir jou kan vra:

  • Wat is een meer as 8?
  • Wat is een minder as 6?
  • Wat is twee meer as 2?
  • Wat is twee minder as 10?

Jy gaan een van die dae hierdie vragies blitsvinnig kan beantwoord. Ek is sommer alreeds trots op jou!


AKTIWITEITE

Lewensvaardigheid:

Maatjies vandag gaan ons ‘n baie oulike prentjie maak.

Jy het die volgende nodig:

  • 1 wit papier.
  • Rooi verf.
  • 1 kwas.
  • 1 oranje of geel papier.
  • 1 swart koki.
  • 1 blou kryt.
  • Skêr.
  • Gom.

 

Dit is wat jy moet doen:

Jy gaan begin deur jou een handjie rooi te verf en ‘n handafdruk op die wit bladsy te maak. Nou moet jy dit ‘n kansie gee om droog te word.

Terwyl jy wag kan jy solank vyf klein sirkeltjies teken op die geel of oranje bladsy. Knip die 5 sirkeltjies nou uit. Hou dit eenkant.

Ek dink jou handafdruk is dalk nog so bietjie klam, so jy kan nou op die rooi papier vyf klein hoedjies teken. Knip dit dan uit en hou dit ook eenkant.

Ek is seker jou handafdruk is nou lekker droog. Plak nou die vyf sirkeltjies op elke vingerpunt van jou handafdruk sodat dit lyk soos brandweermanne se koppies.

Teken vir elke kop ‘n oulike gesiggie met die swart koki. Plak nou die vyf hoedjies op elkeen se kop.

Teken nou ‘n swart brandslang (waterpyp) oor jou handafdruk se vingertjies met die swart koki sodat dit lyk of jou vyf brandweermanne die brandslang vashou.

Die voorbeeld wat ek bygesit het wys mooi vir jou hoe dit moet lyk.

Laastens neem jy die blou kryt en teken water wat by die waterpyp uitspuit.

Ek is seker julle verstaan wat om te doen. Geniet die aktiwiteit sommer baie.

Wiskunde:

Maats, ons gaan vandag weer ‘n lekker speletjie speel oor sortering. Ons het dit al in die klas gedoen met blokkies en ander tellertjies


 Vra vir mamma vir die volgende:

  • 1 boksie smarties.
  • 8 klein plastiek bakkies.

 

Nou gaan ons al die smarties volgens kleure sorteer. 

Soek al die blou smarties uit en gooi dit in een bakkie. Herhaal dit met al die ander kleure.

 

Nou dat al die smarties volgens kleur sorteer is, kan mamma vir jou ‘n paar vragies vra bv:

  • Van watter kleur is daar die meeste? Tel hulle weer.
  • Van watter kleur is daar die minste? Tel hulle weer.
  • Is daar dalk twee kleure wat ewe veel smaries het? Maak seker.

 

Dit is nou tyd vir die lekkerste deel van hierdie lessie! Jy kan nou die smarties almal opeet! Hoop dit was groot pret!

Dankie dat jy hierdie week so hard gewerk het!

Geniet die naweek wat voorlê!


DRUKBARE DOKUMENTE

Smiley faceVrydag - 15 Mei 2020.pdf

TOETS JOU KENNIS