Graad R Huistaal, Wiskunde en Lewensvaardigheid – Woensdag 13 Mei 2020

(Lesson Scheduled For: Wednesday, 13 May 2020)

Padveiligheid en vervoer op land

Bybelstorie:

Ons gesels vandag verder oor Galasiers 5:22-23 en kyk vandag na vriendelikheid. Ons hoor altyd vriendelikheid kos niks. Dis mos die waarheid. Ons moet probeer om meer vriendelik te wees en meer te glimlag, want dan voel ons gelukkig en maak ander mense ook gelukkig. Dis mos lekker om te sien as mamma of jou maatjie bly is!

 Temabespreking:

Motors:

Motors word gebruik om mense of goedere van een plek na ‘n ander te vervoer. Ons kry verskillende soorte motors:

  • Motors met 2 of 4 deure wat mense vervoer.
  • Groter motors soos minibussies of sportnutsvoertuie wat groter gesinne kan vervoer.
  • Bakkies wat mense gebruik om goedere te vervoer wat nie in ‘n gewone motor sal pas nie.

Veiligheid in pappa of mamma se motor.

Wanneer ons saam met pappa of mamma in die motor ry, is dit belangrik om die volgende te onthou:

  • Sit sover as moontlik op die agterste sitplek van die motor. Dit is baie veiliger.
  • Sit dadelik jou veiligheidsgordel aan wanneer jy in die motor klim. Vra vir pappa of mamma om te help as jy dit nie self kan doen nie.
  • Moenie aan enige knoppies in die motor druk of draai nie.
  • Moenie by ‘n oop motorvenster uithang nie.
  • Moenie geraas maak of iets doen wat pappa of mamma se aandag aftrek terwyl hulle die motor bestuur nie. Dit kan groot moeilikheid veroorsaak.
  • Luister mooi wanneer mamma en pappa met jou praat in die motor en hou by die reëls.

Gediggie:

Kom ons oefen weer vandag ons gediggie. Jy behoort hom nou al goed te ken.

Ek ry in my rooi motorkar

en langs my sit my pop

en as ek by die rooi lig kom,

dan weet ek ek moet stop.

“Stop” sê die rooi lig.

“Ry” sê die groen lig.

“Oppas” sê die oranje lig, “oppas wat jy doen”!

Klanke:

Laat mamma die volgende klankies se flitskaarte vandag weer vir jou flits en benoem dan die klankies:

a, d, g, o, e, s, i, u, f, j, k, l, m en n.

Lettergrepe:

Maats, ons gaan vandag aandag gee aan lettergrepe.

Lettergrepe beteken om woordjies op te breek terwyl jy dit klap.

Vra vir mamma om vir jou die volgende woordjies te lees en klap dan die woordjies.

Probeer onthou hoeveel klappies jy geklap het en sê dit vir mamma.

Bv. pad-te-ken = 3 klappies, ro-bot = 2 klappies, ver-keers-lig = 3 klappies, vei-lig-heid = 3 klappies, ens.

Luister mooi terwyl jy klap en onthou hoeveel keer jy geklap het.

Wiskunde:

Maats, kom ons begin vandag nog ‘n keer deur die syferkaarte van 1 – 10 te flits.

Vra vir mamma om dit vir jou te flits en benoem dan die syfers.

Laat mamma nou die getalname van een tot vyf vir jou flits en benoem dit.

Kyk mooi en dink aan die syfertjie wat daarby pas.

Nou gaan mamma weer vir jou ‘n paar oulike optel-sommetjies vra. Dink mooi en gee dan vir haar die antwoord.

  • Daar staan 3 rooi motors en 2 blou motors voor die winkel parkeer. Hoeveel motors staan daar altesaam voor die winkel?
  • Andries het 1 draadkar gebou en kry nog 1 present by sy oupa. Hoeveel draadkarre het hy nou?
  • Simon het 2 fietse en sy pappa koop vir kom nog 1 by. Hoeveel fietse het Simon nou?

Mamma kan nou aan nog ‘n paar sulke voorbeelde dink en vir jou vra.

Mamma, onthou die antwoord mag nie meer as vyf wees nie.


AKTIWITEITE

Lewensvaardigheid:

Maatjies, ons gaan vandag ons eie motorkar teken, inkleur en uitknip.  

Dit is wat jy gaan nodig hê:

  • Wit papier.
  • Gekleurde kryte.
  • Skêr.
  • Teken ‘n oulike karretjie met jou swart kryt en dan kleur jy dit op jou mooiste in. Druk lekker hard, sodat die kleure mooi helder is.
  • Knip dit nou netjies uit op die swart lyntjie en bêre dit op ‘n veilige plekkie vir môre se werkie.

Wiskunde:

Maats, vandag leer ons van sortering. Wat pas by wat? Ons gaan kleure by mekaar laat pas.

 

Dit is wat jy nodig het:

  • Rooi, geel, groen en blou verf. (Gooi een eetlepel van elke kleur verf in hul eie bakkie.)
  • 4 Speelgoed karretjies.
  • ‘n Groot wit papier.
  • Rooi, geel, groen en blou kryte.

 

Dis hoe dit werk:

  • Teken aan die linkerkant van die papier vier verskillende kleure klein karretjies onder mekaar en kleur dit mooi in. Los groot genoeg spasies tussen-in die karretjies.
  • Beweeg nou na die regterkant van die papier en teken weer dieselfde 4 kleure karretjies, maar in ‘n ander volgorde onder mekaar. Kleur dit ook in.
  • Druk nou een speelgoed karretjie in die rooi verf en begin by die rooi motortjie. Laat die karretjie nou ry na die ander rooi karretjie aan die teenoorgestelde kant van die papier. Sien jy? Hierdie twee karretjies pas by mekaar. Hulle is albei rooi. Die karretjie het nou ‘n mooi rooi verf-spoor gelos.
  • Herhaal nou die proses met die ander 3 kleure ook.

Juffrou hoop jy het baie pret hiermee!

 


DRUKBARE DOKUMENTE

Smiley faceWoensdag -13 Mei 2020.pdf

TOETS JOU KENNIS