Graad R Huistaal, Wiskunde en Lewensvaardigheid – Woensdag

(Lesson Scheduled For: Wednesday, 06 May 2020)

Water

Bybelstorie:

Goeiemôre maats. Ons gaan vanoggend ‘n stukkie uit die Bybel lees. Mamma kan vir jou die storie van Samuel lees. Dit staan in 1 Samuel 3. Dit handel oor God wat met Samuel praat. Mamma kan dit vir jou uit jou kinderbybel ook lees. Ek hoop jy geniet die storie sommer baie. Hier volg ‘n prentjie van die storie:

Temabespreking:

Kom ons gesels nou oor ons tema. Water.

Ons gaan vandag gesels oor die gebruike van water.

  • Ons het reeds gesels oor water wat lewe is. Ons drink water, want dit is baie gesond.
  • Higiëne: Ons gebruik water om onsself skoon te hou en te versorg (lyfies was, hare was, hande was tandjies borsel, ens.)
  • Ons gebruik water om skoon te maak. Ons het water nodig om wasgoed te was, skottelgoed te was, vloere te was, ens.
  • Ons gebruik water om kos te maak en tee of koffie te maak.

Kan jy aan nog enige gebruike van water dink? Jy en mamma kan nou lekker gesels daaroor.

Gediggie:

Kom ons sê ons gediggie nog ‘n keer vandag. Ek is seker jy ken dit nou al mooi. Sê dit ‘n paar keer saam met mamma.

Rain on the grass

Rain on the grass,

rain on the tree,

rain on the roof top,

but not on me.

Klanke:

Laat mamma die volgende klankies se flitskaarte vir jou flits en benoem dan die klankies:

a, d, g, o, e, s, i, u, f, j, k, l, m en n.

Dit is goed om jou klankies baie goed te ken as jy mooi wil leer lees.

Luisterspeletjie:

Hier is ‘n baie lekker speletjie wat jy en mamma kan speel en so leer jy ook sommer. Mamma noem ‘n paar verskillende kleure op na mekaar. Elke keer as jy die kleur blou hoor, klap jy jou handjies. Dit kan julle ‘n paar keer speel. Dit leer jou om mooi te luister.

Julle kan die speletjie nou speel met vorms ook. Mamma noem vorms op na mekaar en elke keer as jy die woord driehoek hoor, stamp jy jou voetjie. Mamma kan dit ook ‘n paar keer herhaal. Ek  is seker jul gaan lekker speel.

Wiskunde:

Maats, kom ons begin vandag deur die syferkaarte van 1 – 10 te flits. Vra vir mamma om dit vir jou te flits en benoem dan die syfers. Gebruik jou uitgedrukte flitskaarte hiervoor.

Kom, jy kan dit doen!

Laat mamma nou die getalname van een tot vyf vir jou flits en benoem dit. Kyk mooi en dink aan die syfertjie wat daarby pas.

Ons gaan nou  weer bietjie aandag gee aan voor, na en tussen van getalle tot en met 10.  Mamma kan weer vir jou vragies vra en jy beantwoord dit. Jy kan weer jou syferkaarte in volgorde pak. Dit help mos so bietjie om dit te gebruik. Mamma kan later as jy gemaklik  is met die tipe sommetjies, die syferkaarte wegvat.

  • Watter getal kom voor 7?
  • Watter getal kom na 3?
  • Watter getal kom tussen 5 en 7?

Mamma kan nou vir jou nog hiervan vra.


AKTIWITEITE

Lewensvaardigheid:

Jy het nodig:

  • Groot wit papier.
  • Blou weggooi sak (plastieksak).
  • Swart koki.
  • Gekleurde kryte.
  • Tin foelie.
  • Gom.

Jy gaan nou begin deur ‘n lopende kraan te teken. Op jou prentjie moet daar ‘n kraan wees en druppels wat uit die kraan loop. Jy moet die kraan aan bokant van bladsy teken. Jy kan loer op die voorbeeld wat Juffrou bygesit het. Plak nou ‘n deel van die blou plastieksak aan die onderkant van die bladsy. Kleur jou kraan en waterdruppels in. Skeur dan stukkies tin foelie en rol dit in klein balletjies met jou vingertjies en plak die kraan heeltemal toe met dit. Ek hoop jy geniet die aktiwiteit en dat die prentjie jou sal help as jy onseker is.



Wiskunde:

Maats, ons gaan nou weer lekker saam tel. Onthou jy die ryg-aktiwiteit wat ons verlede week gedoen het? Vra vir mamma vir ‘n stukkie wol of tou en ryg weer die pasta een-vir-een in terwyl jy dit tel. Dit help mos lekker vir daardie fynspiertjies. Ryg die pasta weer een-vir-een uit en dan tel jy dit sommer nog ‘n keer.


DRUKBARE DOKUMENTE

Smiley faceWoensdag.pdf

TOETS JOU KENNIS