Graad RR Dagprogram 8 Mei 2020

(Lesson Scheduled For: Friday, 08 May 2020)

Padveiligheid

Graad RR – Inhoud – 8 Mei 2020

Bybelverhaal:  Laat u kleuter enige van die afgelope paar dae se bybelverhale vertel.

Temabespreking:

Samevatting van die afgelope 2 weke.

Luister weer na Daantjie Kat se storie.  Mamma vertel, maar maak foute.  U kleuter moet u dan stop en die regte weergawe gee.  Bv. Daantjie Hond het die skelm gevang.  STOP!  Daantjie KAT het die skelm gevang. Vra vir u kleuter ‘n paar vragies oor die inhoud van die storie.  U kleuter moet vertel van watter deel van die storie hy / sy die meeste gehou het. 


AKTIWITEITE

Graad RR – Aktiwiteit – 8 Mei 2020:

Teken ‘n prentjie waar jy en iemand oor die pad stap.  Gebruik ‘n koki, kryt, penne, potlood, verf ens. (Koekkleursel gemeng met water kan ook gebruik word in die plek van verf.)  Vra mamma om jou te help met jou prentjie.

Wiskunde:  Lengte

Laat jou gesinslede in ‘n ry staan.  Kyk wie is lank / kort.  Wie is die langste, kortste, langer, korter?

Soek iets in die huis wat by die woordeskat pas.  Die sitkamer se gordyne is lank, die kombuis se gordyne is kort.  Die hond se bene is korter as myne.  Pappa se bene is langer as myne.

Teken ‘n lang / kort kers.

Groot spiere:

Bou vir jou ‘n hindernisbaan met alles tot jou beskikking of gaan klim en klouter as jy so gelukkig is om ‘n klimraam te hê.  Kom jy al mooi reg  met kruiwaloop?

Pak ‘n lang en kort ry met tydskrifte en loop wydsbeen daaroor.  Spring oor dit en kruip om dit.

Klein spiere:

Plak of teken 10 kolletjies.  (5 vir elke hand)  Raak met jou vingerpunte daaraan en maak asof jy op ‘n klavier speel.  Rol ‘n slangetjie / balletjies met klei. Maak ‘n motortjie, verkeerslig, voetgangers en speel sommer net lekker met jou klei.  Vra pappa om saam met jou te bou.  Gebruik knope vir ligte.

Musiek:

Klap die lettergrepe van die afgelope 2 weke se woordeskat.  Ver - keers - lig.  Daan – tjie, ens.

Dans met linte, hoede, serpe en net waarmee jy wil.  Geniet dit.

Sing gereeld ons liedjies en herhaal die gediggies van die afgelope weke.  Wanneer die skool begin gaan ons sommer ‘n lekker konsert in die klas hou.

Baie dankie dat jul so getrou jul werkies doen. Geniet die naweek.  Ons werk  weer Maandag.  Lief en mis julle!

 


DRUKBARE DOKUMENTE

Smiley faceLesplan - 8 Mei 2020.pdf

TOETS JOU KENNIS