Lewensvaardigheid Graad 3: Vrydag, 15 Mei 2020

(Lesson Scheduled For: Friday, 15 May 2020)

  • Post Author:
  • Post Category:

Lewensiklus: Soogdiere

Môre maats

Vandag gaan ons gesels oor soogdiere se lewensiklus. Jou troeteldiere tuis, soos jou hond en kat, is albei soogdiere. As ‘n dier ‘n soogdier genoem word, beteken dit hul kleintjies word lewendig gebore. Hul kleintjies lyk net soos die ouers.

BYBEL:   Genesis 25:19 – Vra ‘n volwassene om vir jou Isak en Rebekka se kinders Jakob en Esau te lees.


AKTIWITEITE

Die tipiese vroulike hond is op ongeveer eenjarige ouderdom gereed om voort te plant. Sy is ongeveer 63 dae dragtig en gee dan geboorte aan ‘n werpsel hondjies. Afhangende van die soort hond, kan ‘n werpsel uit tot 15 klein hondjies bestaan. Klein hondjies word gebore met toe oë en dit gaan nie oop voordat hulle ongeveer 10 tot 14 dae oud is nie. Klein hondjies groei vinnig en is ses weke na geboorte gereed om van die ma gespeen te word. Honde is gewoonlik teen die ouderdom van twee jaar uitgegroei en volwasse. Die gemiddelde lewensverwagting van ‘n hond is 12 jaar, alhoewel daar honde is wat 20 jaar of langer leef.

 

`n Mens word ook as ‘n soogdier beskou. Mense het ook ‘n lewensiklus. Ouers het ‘n kind. Die kind groei en word ‘n volwassene. Die nuwe volwassene verlaat die huis en begin hul eie huisgesin. ‘n Nuwe kind word gebore en so begin die lewensiklus weer.

 

Nuwe woorde:

Dragtig: Daar is baba hondjies in haar maag.

Werpsel: Versamelnaam vir ‘n klomp hondjies bymekaar.

Gespeen: Die hondjies is oud genoeg om ‘n nuwe tuiste te kry, weg van die mamma hond.

 

Aktiwiteit:

Gebruik die kennis van die bogenoemde bespreking en doen die lewensiklus van ‘n kat (soogdier) in jou Rooi DBE-boek bl. 53. Jy kan ook bl.55 doen, hier moet jy vier dinge teken om jou troeteldier te versorg. Ons sal nog die ander lewensiklusse by ‘n ander geleentheid behandel.

 

Loer gerus na Carike Keuzenkamp - Hondsalon ft. Bobby Van Jaarsveld

 

Liggaamsopvoeding:

 

Vir ons LIGGAAMSOPVOEDING gaan ons vandag ruimtelike oriëntasie oefeninge doen. Dit is die vermoë om die verhouding van ‘n voorwerp tot die waarnemer waar te neem.

‘n Kind met ruimtelike oriëntasie-probleme ken nie die ruimte om hom nie. Hy kan nie onderskei tussen links en regs, bo en onder, voor en agter, binne en buite, onderdeur en bo-oor, horisontaal en vertikaal, op en af, ens. nie.

Warm op deur vrylik met jou springtou te spring.

 

Vir jou aktiwiteit moet jy dubbelvoet op dieselfde plek spring en enkelvoet wegspring in ‘n hardloop beweging. As julle genoeg mense is, kan twee persone die tou stadig heen en weer swaai, dan kan jy oor die bewegende tou spring.

 

Vir afkoeling lê jy op jou maag, arms en bene uitgestrek. Hou jou posisie vir 5 tellings. Rol jou liggaam op soos ‘n bal en strek jou rug reguit soos ‘n kat.



TOETS JOU KENNIS