Natuurwetenskappe en Tegnologie; Gr 6 Week 3, Dinsdag 28 April 2020

(Lesson Scheduled For: Tuesday, 28 April 2020)

  • Post Author:
  • Post Category:

Skeiding van mengsels

Môre outjies en vroutjies

Ons het in die vorige lesse termologie van NW gedoen. Daai termologie gaan baie belangrik wees vir toekomstige gesprekke rondom die werkies. Mengsels is twee of meer stowwe wat saamgevoeg word om iets te skep. Dit maak nie saak of dit ‘n gas, vloeistof of vaste stof is nie. ‘n Goeie voorbeeld van ‘n mengsel is Nesquick en melk (vaste stof + vloeistof) rosyne en grondboontjies (vaste stowwe) Coke (vloeistof en ‘n gas)  

Mengsels kan op verskillende maniere geskei word.

Metodes van skeiding:

Deeltjies van die verskillende stowwe in die mengsels het nie dieselfde eienskappe nie. Daarom kan dit geskei word. Die metode wat gebruik word, hang van die eienskappe van die verskillende stowwe in die mengsel af. Ons kry verskillende tipes skeidings nl.

  • Sortering met die hand

Dit word fisies met die hand gedoen. Jy gebruik jou hand om bv. die vaste stowwe soos rosyne en grondboontjies te skei.

  • Sifting

As ‘n mens dink aan sifting, dink ek dadelik aan my ma wat koek bak. Jou ma gooi gewoontlik die meel deur ‘n sif om die klonte van die suiwer meel te skei, sodra die sif gekap word val die fyner meel deur die sif en die klonte bly agter. Die vraag is hoekom? Die fyner meel is klein genoeg om deur die  kleiner deeltjies deur die sif se gaatjies te pas en die deeltjies wat te groot vir die sif is, bly agter.

  • Filtrasie

Vir dié van julle wat al filterkoffie gedrink het sal hierdie goed verstaan. As jy filterkoffie wil maak moet jy filtrasiepapier gebruik. Jy plaas die filtrasiepapier binne die masjien en gooi die moerkoffie binne in die filtrasie papier. Soos die kookwater invloei is die water se partikels klein genoeg om deur die filtreerpapier te beweeg en die moerkoffie bly agter. Lekker koffie! 

  • Afsakking

As jy so lief is vir Nesquick soos ek, sal jy hierdie baie goed verstaan. As kind het ek altyd vir my baie Nesquick in my glas gegooi met melk. As ek begin meng kom ek agter dat die onderste gedeelte van die mengsel baie donkerder is as die boonste gedeelte. Die rede? Daar is nie genoeg deeltjies in die vloeistof om die vastestof se deeltjies op te neem nie. (Onthou julle my taxi beginsel?). Dit veroorsaak afsakking. Wanneer daar deeltjies is (wat nie meer plek het nie) sak dit af na die bodem.

  • Magnetiese ekstraksie

Wanneer metale geskei moet word, word magnete gebruik. Daar is sekere metale wat nie magneties is nie soos bv. goud, aliminium en silwer. ‘n Magneet kan gebruik word om ‘n magnetise bestanddeel, soos ystervylsels of munte, uit ‘n mengsel te haal waar die ander bestanddele nie magneties is nie.

  • Verdamping

Verdamping is so maklik soos om water te kook. As die water kook sal hy stoom vrystel. As die waterpartikels warm raak sal hy al hoe meer van mekaar beweeg, totdat dit na stoom verander, dit word as verdamping gesien.


AKTIWITEITE

Nou gaan ons 'n aktiwiteit doen om te sien hoe mooi julle opgelet het. 

Aktiwiteit: Teken 'n breinkaart op jou foliobladsy. Langs elke woord (handsortering, sifting, afsakking, verdamping, magnetisme, filtrering) moet daar ‘n beskrywing wees van die skeiding wat plaasvind met ‘n voorbeeld.

 


DRUKBARE DOKUMENTE

Smiley faceNWT 28 April 2020.pdf

TOETS JOU KENNIS